Theo Ferreira van Grey-kollege in die Rosestad was onlangs 'n lid van die Suid-Afrikaanse tennisspan wat as wêreldkampioen in die Internasionale Klub se junior uitdaagkompetisie (vir o.16-spanne) gekroon is.
Die toernooi in Adelaide, Australië, was die eindronde van dié wêreldwye kompetisie.
Suid-Afrika is verlede jaar as die Afrika-kampioen gekroon nadat hy Botswana, Namibië en Zimbabwe geklop het sonder om 'n stel af te staan.
Die voorste spanne van die onderskeie vastelande was in Adelaide in aksie. Die ander spanne wat deelgeneem het, is Argentinië, Amerika, Indië en Australië.
Suid-Afrika het die toernooi as die enigste onoorwonne span afgesluit nadat hy Duitsland in sy laaste wedstryd met 5-1 verslaan het. Argentinië het die tweede plek losgespeel.
Suid-Afrika het Amerika in sy vierde kragmeting met 6-0 uit die pad gevee. Ferreira het in dié kragmeting gemaklik met 6-2 en 6-1 met Brian Tsao afgereken.
Duitsland het op die vierde dag met 3-4 teen Argentinë die knie gebuig.
Suid-Afrika en Duitsland was voor die vierde dag se spel die enigste onoorwonne spanne wat oor was.
Suid-Afrika het Argentinië op die derde dag met 5-1 geklop. Ferreira het in sy wedstryd teen Facundo Alvo met 3-6 en 4-6 vasgeval om die enigste punt teen Argentinië af te staan.
Die kampioen het ook nie veel probleme ondervind om Indië in sy tweede kragmeting met 5-1 te klop nie. Ferreira het in sy wedstryd gesweet om Shashank Nautiyal met 6-4, 4-6 en 12-10 te troef.
Suid-Afrika het die gasheer in sy eerste kragmeting met 5-1 verslaan. Ferreira moes hard werk om Caleb Boland met 3-6, 6-2 en 10-8 die knie te laat buig.
Suid-Afrika se span was Ferreira, Matthew Rossouw, Lynn Kiro en Ilze Hattingh. Die spelers het die geleentheid gekry om die professionele spelers Alexander Dolgoplov, Michael Llodra, Stan Wawrinka en Tommy Haas te ontmoet. Voormalige spelers soos John McEnroe en Pat Rafter was ook by die toernooi te sien.