Die eerste krieketspanne van Grey-kollege en St Andrew's sal mekaar vir die derde agtereenvolgende jaar in die Vrystaatse eindstryd van die nasionale Twintig20-reeks die stryd aansê.
Grey-kollege is die verdedigende kampioen van die Vrystaat.
Grey het egter nog elke jaar in die eindstryd van die Knights-streek teen die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley in die stof gebyt.
Die eindstryd sal moontlik weer op Chevroletpark dié week beslis word.
Saints het Grey se tweede span in die een halfeindstryd op Vossies met 45 lopies geklop.
Die tuisspan het eerste gekolf en 160 lopies in sy toegelate boulbeurte danksy bydraes deur Sine Ntshona (33), Rory Rous (30) en Koot Pienaar (21) aangeteken.
Estion Steyn (2/15) en André Burger (2/19) was die beste boulers vir Grey se tweede span. Steyn is die seun van die voormalige Protea-speler en huidige afrigter van die Vrystaatse senior span, Rudi Steyn.
Grey kon slegs 115/9 behaal. Choppy Linde (32) en Reinhardt Bezuidenhout (30) het die grootste bydraes met die kolf gelewer.
Die twee aanvangsboulers van Saints het uitstekend geboul en die grondslag vir die oorwinning gelê.
Die span se Vrystaatse o.19-speler, Johan van Dyk, het van een kolwer vir slegs agt lopies in sy vier boulbeurte ontslae geraak.
Die draaibouler, Sean Whitehead, wat saam met Van Dyk die boulwerk geopen het, het twee kolwers vir net nege lopies in sy vier boulbeurte teruggestuur kleedkamer toe.
Ntshona, wat ook saam met Van Dyk vir die Vrystaat verlede jaar in die Khaya Majola-week in Kaapstad in aksie was, het self twee paaltjies vir 15 lopies laat kantel.
Die verdedigende kampioen het Voortrekker van Bethlehem op sy tuisveld, die Johan Volsteedt-ovaal in Bloemfontein, met ses paaltjies verslaan.
Die Trekkers het 105 lopies aangeteken.
Grey het die wenlopies van die derde laaste bal van die wedstryd geslaan.