Clifton van Durban is die kampioen van Grey-kollege en Itec se o.18-waterpolotoernooi wat in die Gustav Fichardt-swembad hier gehou is. Die span van Durban het Reddam van Kaapstad in die eindstryd naelskraaps met 5-4 geklop.
Grey moes met die tiende plek tevrede wees nadat hy met 12-3 deur Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch in die uitspeelstryd vir die negende en tiende posisie verslaan is. Die kampioen en gasheer is in dieselfde groep geloot.
Clifton het Grey (7-1), Selborne College (11-1) en Pretoria Boys' High (7-6) in sy drie groepwedstryde geklop. Hy het St. Stithian's College van Johannesburg met 7-1 in hul kwarteindstryd uitgeskakel.
Reddam het sy plek in die halfeindstryd verseker deur Wynberg Boys' High met 8-4 te klop. Clifton het Pretoria Boys' High met 3-1 in 'n taai halfeind verslaan, terwyl Grey Boys' High School van Port Elizabeth in die ander halfeindstryd met 2-9 teen Reddam die knie gebuig het.
Die gasheer het derde in sy groep geëindig nadat hy Selborne van Oos-Londen met 7-1 in sy laaste groepwedstryd verslaan het.
Die spanne was 1-elk na afloop van die eerste helfte, met die gasheer se doel wat deur Reinhardt Arndt aangeteken is.
Arndt het in die tweede helfte ook 'n doel aangeteken, terwyl Wikus Schoeman twee doele aangeteken het.
Grey het in sy groepwedstryd teen Pretoria Boys' High 'n naelskraapse nederlaag van 3-4 gely.
Die naelskraapse nederlaag beteken die vertoning deur Grey was seker een van sy beste nog op die toernooi. Pretoria Boys' High het derde in die toernooi geëindig.
Grey kon dus 'n veel beter posisie losgespeel het indien sy loting hom meer bevoordeel het.
Grey het Parktown Boys' High met 10-6 in 'n uitspeelwedstryd geklop. Die span se voorste doelskieter, Eduan Pienaar, het vyf van sy span se doele aangeteken.