Al het hulle op die verhoog 'n gróót geraas gemaak, kon die lede van Sonder Spore skaars praat nadat hulle gehoor het hulle is 2011 se JIP-Rockspaaider-wenners, skryf Riëtte Grobler.
Dit was asof die tyd 'n oomblik gevries het op die verhoog toe Sonder Spore Woensdag op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees as die wenner van JIP-Rockspaaider 2011 aangekondig is.
"Ons het dit glad nie verwag nie," het Shemone Brooks (17), die donkerkop-hoofsanger en liedjieskrywer van Sonder Spore, gesê nadat sy haar asem teruggekry het.
Sy en haar groep is nog net drie maande saam en het een dag in pousetyd by die Hoërskool Randburg in Johannesburg besluit om 'n band te begin.
Die ander lede is Johandre van Rooyen (17), die baskitaarspeler; Altus Booysen (18), die hoofkitaarspeler wat ook die groep se musiek skryf; en Mauritz Tuit (18), die tromspeler.
Dié klomp is baie verskillend en het besluit om in die eindstryd hul persoonlikhede met hul uitrustings uit te druk.
Altus, wat 'n bietjie uit die veld geslaan was nadat sy groep gewen het en net grootoog op vrae geantwoord het, het 'n kleurryke hippie-broek gedra. Moet egter nie dink sy kop is in die wolke nie - hy is die skool se onderhoofseun.
Mauritz, die tromspeler, is die hoofseun én 'n atleet. Daarom het hy besluit om 'n kort-kort atletiekbroekie te dra.
Shemone sê dat Johandre die "skaam een" is en altyd "mooi aantrek". Maar dit was veral háár outfit wat aandag getrek het: 'n kort wit vintage-rokkie van kant, hemelhoë hakskoene en bloedrooi lippe.
"Ons is dalk almal verskillend, soos 'n vrugteslaai, maar ons vul mekaar aan as dit by musiek kom," sê Shemone.
"Al stry ons baie, vertrou ons mekaar; en omdat ek die enigste meisie in die groep is, sluit ek my maar af. Maar die ouens is eintlik great, want hulle gee nie net om oor hulself nie, maar sorg ook dat ék goed klink op die verhoog."
Die groep se klank is 'n kombinasie tussen soft rock en 'n bietjie blues, en hulle skryf liedjies oor goed wat régtig vir tieners saak maak.
"Ons doel is om mense in 'n feel good mood te sit. Ons is 'n baie chilledband en skryf nie oor politiek, moord of die einde van die wêreld nie."
Al die lede van die groep is gek na musiek, en Shemone sê dis haar grootste passie.
"My ouma kon 35 instrumente bespeel. Ek het die stem gekry. Maak nie saak wat ek doen nie, musiek trek my altyd weer terug," sê sy.
Johandre beskryf musiek maak as 'n ontdekkingsreis, en vir Altus is musiek 'n goeie manier om sy emosies uit te druk.
"Dis soos 'n bokser wat sy emosies op 'n slaansak uithaal as ek musiek maak," sê hy.
Met sy pryse gaan Sonder Spore sommer baie kans kry om sy emosies in musiek om te sit.
Die pryse sluit 'n albumopname deur One Big Room-produksies en die maak van 'n musiekvideo deur Andrew Kerr in, asook R5 000 en bybehore van die Johannesburgse musiekwinkel Music Connection.
Hou www.jip.co.za en ons Facebook-blad dop vir 'n video van die eindstryd en vir onderhoude.
Goeie begin vir loopbaan
Die ander twee groepe in die topdrie was Mars Riot, ook van Johannesburg, en Anderkant die Maan van Vereeniging. Vanjaar het sowat 20 groepe van regoor die land ingeskryf.
"Selfs al wen bands nie die kompetisie nie, kan hulle hierna aangaan om groot dinge te bereik," sê Ludwig Bouwer van One Big Room-produksies, wat Rockspaaider al agt jaar organiseer.
Hy sê die konsep van Rockspaaider was nog altyd om die saadjie te plant sodat hoërskoolmusikante kan ervaar hoe dit voel om régte musikante te wees.
Daarom was die Vodacom/MK Bultfantasties-verhoog op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees die ideale plek vir die JIP-Rockspaaider-eindronde, omdat dit die jong musos 'n oomblik in professionele bands se skoene laat staan het. Naas Veld, voormalige kitaarspeler van die groep eF-eL, was die gaskunstenaar by Rockspaaider. Hy sê al bestaan eF-eL nie meer nie, het Rockspaaider die lede se loopbaan ge-kick-start.
"Maar bands moet onthou dit is van daar in hul eie hande om 'n suksesvolle loopbaan te ontwikkel," sê hy.
Mars Riot het tweede gekom en R3 000 gewen, en Anderkant die Maan het R2 000 ontvang.
Dis geskiedenis!
In die tiende jaar van Rockspaaider was daar twee groepe met meisies as hoofsangers in die topdrie.
Dit is die eerste keer in die kompetisie se bestaan wat dit gebeur het.
Shemone Brooks van Sonder Spore en Mari Labuschagne van Mars Riot is boonop in dieselfde registerklas aan die Hoërskool Randburg in Johannesburg, én hulle is goeie vriende.
Húlle het besluit . . .
Marzahn Botha (voormalige JIP-redakteur en vermaakjoernalis):"Rockspaaider is belangrik, want daar's altyd plek vir nuwe talent, en dís die plek waar nuwe talent 'n stem kry."
Haddad Viljoen (bemarkingsbestuurder van kykNET en MK):"Ek dink dis fantasties dat daar vanjaar soveel vrouestemme was."
Charl Greyling (nasionale handelsmerkbestuurder van Jägermeister en hoofsanger van The Olympic): "Dis great om te sien daar is weer iets nuuts op die Suid-Afrikaanse musiektoneel."
Pieter de Jager (hoofsanger van Die Tuindwergies): "Die bands was baie cool, en die meisies het vanjaar gekook."