Dum-dum-dum! Die top-3 finaliste in vanjaar se Rockspaaider-kompetisie is pas bekend gemaak.
En die drie bands wat binnekort by Aardklop teen mekaar gaan meeding is...Mars Riot, Sonder Spore en Anderkant die Maan!
'n Bietjie meer oor jou top-3
Mars Riot bestaan uit Mari Labuschagne van die Hoërskool Randburg en Sheldon van Wyk, Johan van Dyk, Tjaart van der Walt van Noordheuwel Hoërskool en Jonathan Viviers.
Mari is die "kleintjie" in die band en speel al van klein af klavier en kitaar. Sy het vir Sheldon by die Swallow 15 Music School ontmoet en hulle het saam besluit om 'n band te begin. Sheldon glo hy het sy passie vir musiek beslis van sy pa se kant van die familie geërf. Johan is seker die veelsydigste in die groep – nie net speel hy tromme nie, maar ook kitaar, baskitaar en klavier! Hy beoog om, soos sy oupa, agt instrumente te kan speel. Tjaart, wel, Tjaart is Tjaart en musiek is glo sy lewe. Jonathan speel al vir 'n paar jaar kitaar en het kort voordat Mars Riot verlede jaar vir die eerste keer aan Rockspaaider deelgeneem het, deel van die band geword.
Almal in die band beoog om musiek as ‘n loopbaan te volg. Hulle skryf musiek waarmee meeste mense kan identifiseer en probeer om 'n positiewe boodskap oor te dra. Bands soos Alleen na Desember, Paramore en 30 Seconds to Mars het ‘n groot invloed op hul musiek.
Sonder Spore se musiekstyl is 'n mengsel van soft rock, 'n bietjie blues "en nog iets wat nie 'n naam het nie".
Al die bandlede is in die Hoërskool Randburg en bestaan uit Mauritz Tuit op tromme, Altus Booysen op kitaar en agtergrondsang, Johandre Van Rooyen op baskitaar en Shemone Brooks as die liriekskrywer en hoofsanger.
Sonder Spore wil met hul musiek mense in 'n goeie bui sit en hulle wil self ook 'n goeie tyd hê terwyl hulle musiek maak. "Ons skryf nie oor politiek, moord of die einde van die wêreld nie, maar wel oor dinge wat werklik saak maak in ‘n tiener se lewe. Ons glo dat alle tieners van ons musiek sal hou omdat dit iets nuuts is. Julle soek talent? Hier kom ons!"
Anderkant die Maan se lede is in Vereeniging Hoër en Overvaal.
Hulle is 'n Afrikaanse rockband van Vereeniging en was voorheen bekend as Antibiotika wat verlede jaar ook aan Rockspaaider deelgeneem het. Hulle het ongeluk na die eerste rondte uitgeval.
Sedertdien het hulle nuwe lede tot die band gevoeg en ook genre verander en het toe besluit om sommer ook hul naam te verander. Hulle het ook intussen meer ondervinding gekry en aan hul talente geslyp met talle gigs en het al met kunstenaars soos Snotkop en DJ Ossewa opgetree.