Trespass
Misdaadriller
Met Nicole Kidman, Nicolas Cage, Liana Liberato, Ben Mendelsohn
Regie: Joel Schumacher
Trespass laat 'n mens dink aan absurde trappe van vergelyking soos sleg, vrot en irriterend ellendig.
Dié fliek val in laasgenoemde kategorie. Jy ervaar die fases van verlies - verbasing, ontkenning, woede, verdriet en, uiteindelik, slegs 'n minuskule kans dat berusting sal volg.
Met die onbenullige draaiboekskrywer Karl Gajdusek is dít onmoontlik. Hy skets Kyle (Nicolas Cage) en Sarah (Nicole Kidman) Miller as verteenwoordigers van 'n hoogs ontwikkelde en dekadente lewenstyl waar slegs rykdom tel, terwyl gesinsverhoudinge op 'n nie-kommunikatiewe laagtepunt prut.
Dié paartjie en hul tienerdogter Avery (Liana Liberato) woon in 'n hoogs beveiligde huis, maar maak hul voordeur vir gemaskerde misdadigers oop wat hulle oor die interkom as personeellede van 'n veiligheidsmaatskappy voordoen. Die Millers word oorval.
Geloofwaardigheid glip permanent by die agterdeur uit.
Die Millers hardloop nie weg nie; hulle veg. Cage se karakter snuif, skreeu en bloei.
Hy's dapper, maar tree onnosel op. Hy besef darem die bende van vier boewe moet weet hy't diamante in die kluis.
Kidman het meer plooie in haar gesig as ooit tevore. Sy hiperventileer, snik en huil soms histeries.
En het haar karakter dalk voorheen 'n verhouding met een van die bendelede gehad? Terugflitse insinueer dié moontlikheid.
'n Kakofonie van stemme vul die huis. Selfs die invallers baklei hewig onder mekaar, maar van 'n geleidelike opbou van spanning is daar nouliks sprake.
Trespass is melodrama by uitnemendheid; met maatemmers vol cliché's. Die oninspirerende dialoog en aangedikte intrige-wendinge maak jou voortydig moeg.
Kidman en Cage is aandagtrekkers, maar albei is uit hul diepte.
Veral Cage is telkens 'n verleentheid. Liberato kwyt haar darem deeglik van haar taak in die rol van Amy. Slegs Ben Mendelsohn maak van die invallers se sarkastiese leier, Elias, 'n bogemiddeld genuanseerde karakter.
Moenie "oortree" nie; bly weg!
Ouderdomsperk: 16TG. Tydsduur: 91 minute
Soortgelyke prent: Trapped