Meer wit kinders en jong mense is aan misdaad blootgestel as enige ander bevolkingsgroep in Suid-Afrika, lui die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (Nyda) se nasionale jeug-konsepverslag.
Die Nyda het die verslag, wat in samewerking met onder meer die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), die Mediese Navorsingsraad, asook Statistieke Suid-Afrika (SSA) saamgestel is, gister hier aan rolspelers voorgelê.
Luidens die verslag het 'n studie getoon wit kinders en jong mense in die ouderdomsgroep 12 tot 22 jaar word meer aan misdaad blootgestel as ander bevolkingsgroepe.
Die Nyda sê in die verslag, The South African Youth Context, hy is verras deur die "opvallende bevinding" aangesien wit gesinne in die algemeen 'n hoër lewenspeil het en in veiliger buurte met minder misdaad woon.
Daar word nie aangedui onder hoeveel mense die studie gedoen is nie en die Nyda het gesê hoewel die statistieke leersaam is, skets dit nie 'n nasionale prentjie nie. Altesame 29% van die wittes wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui hulle het al die diefstal van persoonlike artikels ervaar.
Dit is aansienlik hoër as swart mense (14,8%), Indiërs (13,5%) en bruin mense (23,4%).
Wittes is met 16,6% ook bo-aan die lys van kinders en jong mense wat al aangerand is - gevolg deur bruin mense met 16,5%, swart mense (14,1%) en Indiërs (11,1%).
Altesame 23,5% van die wit deelnemers het gesê hulle het huisbrake ervaar. Bruin mense (19,2%) is tweede op die lys, gevolg deur swart mense (14,3%) en Indiërs (9%).
Die meeste van die deelnemers wat aangedui het dat hulle al seksueel aangerand is, was bruin (4,4%) en swart (3,7%). Slegs 2,6% van die wit deelnemers was al slagoffers van dié misdaad.
Die Nyda meen die "oënskynlike anomalie" beklemtoon die veelfasettige aard van misdaad in Suid-Afrika en stel 'n nasionale opname voor.
Jeugdiges se "gewaagde seksuele gedrag", wat veelvoudige, gelyktydige seksuele verhoudings, onveilige seks en inkonsekwente kondoomgebruik insluit, word in die verslag as een van die grootste bedreigings vir die gesondheid en welstand van die land se jeug bestempel.
Mnr. Collins Chabane, minister in die presidensie, het gesê die huidige konteks van jong mense in Suid-Afrika bring 'n hele aantal vrae na vore wat strategies aangepak sal moet word.
"Ons ouderdomstruktuur is jonk en die kritieke vraag is of Suid-Afrika so geposisioneer is om voordeel te trek uit dié groot groep jeugdiges."
Die Nyda sal die finale verslag aan pres. Jacob Zuma oorhandig, wat dit later vanjaar aan die parlement sal voorlê.