'n Uitsonderlike eksperiment het bevind dat skoolkinders wat nie hul hande opgesteek het om 'n onderwyser se vraag te beantwoord nie, maar dit eers neergeskryf het, twee keer so vinnig leer.
Die navorsing is uitgetoets as deel van 'n tweeledige BBC2-dokumentêre program. In die eksperiment het 'n klas van 13-jariges twee keer so vinnig geleer toe hulle nie toegelaat is om hul hand op te steek om 'n onderwyser se vraag te beantwoord nie. In plaas daarvan moes die hele klas die antwoord eers neerskryf en dan almal saam hul hande opsteek.
Hierdie tegniek help nie net vir skaam en minder bevoegde kinders nie, maar dit het die resultate van leerders met selfvertroue ook verbeter.
Die program, The Classroom Experiment, sal later vandeesmaand op BBC2 uitgesaai word. Die navorsers het ook bevind dat deur die leerders te laat oefen aan die begin van die dag, hul akademiese vordering ook verbeter het.
Professor Dylan Wiliam van die London University Institute for Education, het die projek gelei. Volgens hom het die onderwysers en die kinders die projek aan die begin gehaat, maar was die resultate die moeite werd. Hy hoop dat die projek sal wys hoe belangrik goeie opvoeding is. – Daily Mail