Daar is vir my niks lekkerder as om 'n stuk sjokolade-kaaskoek te bestel as ek uiteet nie.
Maar daar is niks wat die room so vinnig kan versuur soos 'n kelner wat my verkeerd opvryf nie.Omdat ek kelners se geswoeg en gesweet die moeite werd wil maak, wil ek nou 'n helpende hand na hulle uitreik. As jy waiter en mý ouderdom is, sal jy veral goed verstaan waarom dit belangrik is om 'n goeie tip te verdien om jou karige sakgeld aan te vul.
Hier is hoe jy dit kan doen:
1. Wees rustig as jy jou aan my voorstel en moenie hiperventileer nie. Daar is geen rede om jou notaboekie se bladsye te tel terwyl jy jou naam fluister nie. Onthou, die restaurant is jou natuurlike habitat.
2. Om te waiter is nie 'n intelligensie-kompetisie nie. Ons toets nie jou geheue nie. Jy kan régtig neerskryf wat ek wil bestel, eerder as om die verkeerde koek voor my neer te sit.
3. Wanneer die kos klaar voorgesit is, mag jy maksimum twee keer kom kloek om te hoor of als oukei is. Ek verstik sommer as my mond vol hamburger is en jy juis dán jou wonderlike oordeelsvermoë inspan en dié vraag stel. Wag totdat jy sien daar is niks in my mond nie voordat jy die geleentheid aangryp.
4. Die "afdek-situasie" is baie sensitief. Dis jou laaste kans om jou vaardighede ten toon te vra. Tel een minuut en dertig sekondes af voordat jy die leë bord gaan haal. Ek voel soos 'n misdadiger wanneer my bord voor my weggegryp word oomblikke nadat ek my mes en vurk neergesit het. Nee, ek sal nié die eetgerei steel nie.As jy dit regkry om aan dié vereistes te voldoen, sal jy jóú sakgeld makliker met 'n stewige hap kan aanvul uit mýne. Ek watch jou.
Aldu is in gr. 12 aan die Hoërskool Langenhoven, Riversdal.