Tyd vlieg. Hier staan ons aan die einde van nóg 'n jaar. En ek's bang. Bang vir daardie onsekerheid van 'n nuwe hoofstuk en 'n nuwe jaar wat voorlê. En ook bang vir die baie swak musiek in winkelsentrums oor die Kerstyd.
Dis my laaste rubriek vir 2011. "Skryf oor die jaar wat was," kom die boodskap.
Elke jaar het sy eie moewie, besef ek. Daar is die komiese oomblikke, die romantiese oomblikke, die bangmaak-oomblikke (gewoonlik in 'n taxi), die hartseer oomblikke, die "a-ha!"-oomblikke, en dan daardie oomblik wanneer die musiek verander en jy onkant betrap word.
Want die draaiboek wat jy "aanvanklik" vir die jaar in jou geestesoog sien uit-pan het, neem soms 'n ander wending (in die moewies gewoonlik een of ander psycho-eksmeisie) wat nie aanvanklik deel was van die draaiboek nie.
Ek gaan gou 'n paar woorde steel by die blogger Kate Moller, wat my vir ewig sal bybly:
"Dit sal later gebeur. Sy beste vriend sal jou uitvra. Jy sal in die cinema gesoen word, in plaas van in die maanlig.
"Jou vriendin sal wegtrek. Iemand anders sal langs jou in die klas kom sit. Sy sal eers 'n bietjie weird wees. Dalk selfs skaam. Maar julle sal later nie sonder mekaar kan lewe nie.
"Jy sal dinge nie op die regte oomblik doen nie. Jy sal laat wees. Jy sal vroeg wees. Jy sal die pad byster raak. Jy sal vertraag word. Jy sal van besluit verander. Dit gaan nooit uitwerk soos jy gedink het nie.
"Dit sal net beter wees."
Verlede jaar was my laaste rubriek vir 2010 oor my liefde vir kos. Want eet is vir my lekker.
Vanjaar, soos ek hier op my bed sit en tik, het ek 32 kg afgeskud (ja, julle wiskunde-boffins, doen die sommetjies).
Ek voel soos 'n nuwe mens. Dis nie dat ek voel ek is nou 'n "beter" mens omdat ek 32 kg ligter is nie – glád nie - dis net 'n skaal daai. Maar ek is tien keer liewer vir myself, rekmerke en al. Ek is trots op dít wat ek bereik het.
Ek wil skree van geluk.
Ek wil spring van blydskap.
Ek het dit vir myself gedoen hierdie jaar.
It was time to face the music.