So jy's nou in die hoërskool en net nog 'n graad "aggie".
Teen dié tyd het jy en jou maters seker al afskuwelike byname soos Pottie-otters, Knolle, Pofmuise, Voetskimmels, sub-tropiese parasiete of dalk net groentjies.
Jy het teen dié tyd seker ook al nuwe vriende gemaak en jou minstens een keer amper natgemaak met die aaklige gedagte dat 'n leier jóú dalk dié keer gaan kies om voor die héle skool "Vader Jakob" te sing.
As jy so staan en opkyk na al die ouer kinders in die skool, wonder jy dalk: "Waar en wie gaan oor vyf jaar in hierdie homogene massa wees? Gaan ek akademies uitblink, 'n sportheld word, 'n popular of dalk 'n outcast wees? Gaan ek vas uitgaan met iemand of gaan ek single bly? Gaan ek ook met drank eksperimenteer of gaan ek my nie steur aan versoekings nie? Gaan ek 'n
boelie wees of gaan ek vriende maak sover ek kan?"
Gelukkig vir julle groentjies, is die antwoorde op hierdie vrae in jou eie beheer, nie 'n leier s'n nie. Jy kan slegs deur jou eie mindset bepaal waar jy oor vyf jaar wil wees.
Gaan jy die ou of meisie wees wat gaan swig onder negatiewe invloede of groepsdruk? Of gaan jy die een wees wat altyd net jouself gaan wees en uitstyg bo enige en alle omstandighede?
Groentjie, onthou dat jou hoërskoolloopbaan binne 'n oogwink gaan verby wees. Wat jy dus ook al besluit om te doen of te wees op hoërskool, maak net seker jy kan oor vyf jaar terugkyk na jou skoolloopbaan en sê: "Ek het geen regrets nie." Want hoërskool is glad nie so erg soos die seniors wil hê jy moet dink nie.
Dis eintlik síék lekker.
Lizelle is in gr. 12 aan die Hoërskool Middelburg.