Verstarde gesigsuitdrukkings. Bloedbelope oë. Stukkend-getrapte broeke. Halfgeskeerde baarde. Barbaarse optrede. Lees ons die tekens? Of kyk ons, nes die res van die wêreld, vas in die nette wat realiteit voor ons oë span?
Heel agter, rug teen die muur om haar moeë rug te stut, sit sy. Kennis by die een oor in en uit wanneer die bottels teen die mure stukkend geslaan word om die verlede in bitter alkohol te doop. Die kroeg staan soos ‘n standbeeld, ‘n lewende herinnering van die wyn wat deur haar are slenter. Soek vir vergeet onder in die bottel, en kry dit in die lustelose nasmaak. Oomblikke vergete, maar die verlede bly vir ewig. Nageslag tot nageslag - water teen jou voorkop en wyn in jou hart.
Langs die venster op die gebreekte stoel hang sy lyf en sy gebroke siel. Hy teken sy hart op die papier wat lê en wag vir die hoofslagaar van sy storie om uiteindelik uitgespel te word, in enige skakering van rooi en swart. Woorde word nie geskryf nie, dit word gebloei, en hy was oortuig dat die stroompies gif wat oor sy arms vloei hul eie woorde sou spreek. Sou praat wanneer hy te swak word. Sy liggaam is sy dagboek, en elke inskrywing is opgedra aan enigiemand wat bereid sou wees om dit te lees. Sou wou lees van die gif wat sy vyand se woorde oor sy wonde vryf. Hy wag. En hy is nie seker hoe lank hy nog wil wag voordat Satan sy knipmes oorneem nie. Woorde tref dieper as wonde. Dis waarvan sy liggaam getuig.
In die middel van die skobbejakke, onder die papiere wat in boë oor haar kop waai, lê sy. Sy slaap in die klas, want haar huis huil in die nag. Spoeg wat net gedeeltelik hare is, drup op die tafel en sy skuif rusteloos rond omdat sy seer sit. Mondvol vir mondvol het sy haar liggaam met afstootlikheid probeer vul. Die nuwe slotte aan haar deur is afgeknip deur sy deursettingsvermoë. Nuwe slotte is aan haar mond vasgeheg, maar nie sterk genoeg om die seer spoeg gevange te hou nie.
Links van haar sit die een wat vir haar lag, sy grynslag loop soos whiskey teen haar rug af. Hy rebelleer teen enige vorm van outoriteit om vryheid in sy daaglikse lewe te ervaar. Hy het lankal die kettings om sy arms afgeskud en vrede ervaar. Uiterlik. Hy word nie opgepas nie. Hy is vuil, hy stink en die wêreld eien hom as niks meer as ‘n hond nie. ‘n Basterbrak.
Die meisie wat maer soos ‘n kraak in die muur in die hoek sit, se leë oë staar in haar skoot in. Sy verken elke lyntjie en kreukeltjie op haar benerige hande en wonder of dit anders sou lyk as daar vanoggend ‘n stukkie brood was om daarin vas te hou. Met ‘n skreeuende liggaam het sy gaan slaap, gehoop die nag verteer nie haar broosheid nie. Dy het geruk van die koue onder die dun vlies wat haar ma oor haar kom gooi het. Uit die baarmoeder, op die grond - so het sy gekom, en so sal sy weer gaan.
Voor, reg langs die onderwyser se tafel, snak hy na sy asem na elke pynlike asemteug. Is suurstof sy medisyne of sy seer? Die dwelm het hom vir ‘n rukkie heelgemaak. Aan die begin was die vergeet lekker. Hy kon kans kry om sy lewe aanmekaar te weef, totdat hy ook vergeet het waarom hy leef. Musiek was sy muse toe sy woorde hom faal. Musiek penetreer sy onthou, maak dit meer draaglik. Onttrekkingsimptome van die dwelm, van die lewe wat hy moes agterlaat. Met ‘n sigaret in die mond en ‘n Coke in die hand.
Die onderwyser bekyk sy lesbeplanning vir die dag. Is fotosintese van toepassing op ontwortelde tieners? Gaan almal van hulle more oggend weer die son sien, of gaan Satan die oorhand kry? Gaan die alkohol die blomme op haar graf besproei? Gaan hy vanaand sy eie liggaam soos ‘n padda s'n dissekteer? Gaan sy genoeg lewe in haar liggaam kan pomp om op te staan? Gaan hy homself aan sy kettings van vryheid ophang? Gaan die tekort aan geestelike kos haar einde beteken? En gaan sy verlede hom soos Klaas Vakie met ‘n sakkie vol poeier besoek?
Vandag praat hy oor respirasie. Asemhaling. Asem die lewe in en die verlede uit. Haal net genoeg asem om aan die lewe te bly. Hou jouself net lank genoeg regop, want as jy die dag gaan besluit om te val, is die kans om op te staan net so min soos die kans om ooit te vergeet.